‘n Tweede-kans-geluksoomblik!

Posted in Weddings on March 23rd, 2010 by Yolanda Saayman

Petro & Pieter
Huweliksbevestiging: 18 Maart 2010
Avalon Estate – ‘n “home wedding”…

Ek kry dikwels navrae vir “home weddings”. Mense wat vir die 2de keer in die eg tree en hulle beloftes voor God en getuies wil aflê, maar nie ‘n groot do daarvan wil maak nie.

Toe Petro my 48-uur voor haar en Pieter se huweliksbevestiging skakel, was ek nie seker of ek my draaie sou kon maak om hulle troue af te neem nie…

Die seremonie het in die braaikamer van hulle nuwe tuiste in Avalon Estate plaasgevind. Ek was aangenaam verras om te sien hoe 28 stoele in rye uitgepak is. ‘n Podium is ingerig met kerse en die pragtigste ruiker met rooi rose en wit gladiolas het langsaan gepryk. Vir 30min was die braaikamer ‘n kerk – vir ‘n baie intieme huwelikseremonie.

Petro het stiptelik 18h00 opgedaag en sy het absoluut beautiful gelyk in ‘n roomkleurige kant uitrusting. Dit was ‘n informele affêre en die familie en vriende is eers hartlik voor die seremonie se aanvangs, gegroet.

Petro se ma, Ouma Dawie, is doof en het blind geword op 50. So alhoewel sy bekend is met gebaretaal, is haar wêreld donker en stil. Petro se een dogter, Nadia, wat ook gehoorgestremd is, het via die predikantsvrou, wat as tolk opgetree het, vir haar ouma die 30min seremonie via tas, vertaal. Ek noem dit, want die ou tannie het diep in my hart gekruip. Ek het weereens besef hoe gelukkig ons is en dat ons werklik ons sëeninge moet tel – elke dag, een vir een…

Ek het na afloop van die seremonie ‘n paar informele fotos van die gaste en die paartjie geneem. Daarna is almal in konvooi na Poplars waar die feesvieringe sou voortduur.

Aangesien dit nie ‘n konvensionele troue was nie, het ek foto-geleenthede geskep en elke besonderse oomblik en interaksie met die gaste probeer vasvang.

Ek stem saam met Petro – daar is nie iets soos toeval nie. Mense kom op jou pad vir ‘n rede. Ek was redelik beïndruk met haar Sherlock Holmes speurwerk om my op te spoor en in retrospek, verheug dat ek dit wel kon maak. Ek het besonders bevoorreg gevoel dat ek in hulle binnekring toegelaat is en dat ek vir hierdie paartjie hulle spesiale dag, ‘n 2de-kans-geluksoomblik, kon afneem.

Die warmte, samesyn en liefde wat ek tydens hierdie paar uur ondervind het, het my laat dink aan die volgende Oscar Wilde quote:

If equal affection cannot be, then let the more loving one, be me.

Yolanda Saayman

Tags: , , ,

Stef Bos stel “Kloofstraat” CD bekend tydens Stellenbosch Woordfees

Posted in Live Music on March 4th, 2010 by Yolanda Saayman

01 Maart 2010 – Stellenrust

Stef Bos se nuwe CD Kloofstraat is Maandagaand op Stellenrust wynplaas as deel van die Stellenbosch se jaarlikse Woordfees vrygestel. Dit is ‘n samestelling van snitte wat op sy CD reeks Demo 2008 Deel 1, 11 & 111 verskyn het, met die uitsondering van Komatiepoort wat nog nooit voorheen op ‘n CD verskyn het nie.

Dis hoog somer in Stellenbosch – 40 grade Celcius en die kraaie gaap. Binne in die kelder is dit koel. ‘n Saal is ingerig as ‘n teater en ‘n klein verhogie is opgestel met onder andere ‘n vleuelklavier. Stef is reeds daar om die klank te toets en ek het ‘n geleentheid om ‘n paar behind the scenes fotos te neem.

Die voorreg het my dus weer te beurt geval om hierdie talentvolle kunstenaar af te neem. Hy is absoluut gefokus. Hy lyk besorgd omdat die Februarie Susters nog nie opgedaag het nie… Gelukkig stap Die Susters, Esmé Klaaste, Maria Steenkamp, Debbie Isaacs en Jane Filander, net na 19h00 by die teater in. Hulle is netjies geklee, lyk ontspanne, opgewonde en trots. Hulle wou blykbaar nog altyd ‘n CD sny en nadat Stef hulle vir die eerste keer in ‘n kerk in die Elgin-omgewing hoor sing het, het hierdie droom vlerke gekry…

Geen twee shoots is ooit dieselfde nie. My grootste uitdaging, behalwe om die beligting te bemeester, is om die musikant in ‘n ander lig te raam. My doel was om sy nuanses, sy verhouding met die klavier en sy interaksie met die gehoor vas te vang, maar anders as voorheen.

Vir hierdie geleentheid het ek twee lense gebruik – die Canon EF 50mm f/1.8 II en ‘n Canon EF 70-200mm f/2.8 L IS USM lens. Vinnige lense is onvermydelik vir teater shoots veral as ‘n mens nie flits fotografie wil/mag gebruik nie. Die beligting was meer uitdagend as by die Oude Libertas aangesien die verhoog geen backdrop gehad het nie. Natuurlik is die verhoogbeligting baie belangrik, want dit is die beskikbare lig waarmee ek moet werk en so begin my wals met die veranderlike, onbeheerbare lig, in die donker.

Ek kan verstaan hoekom Die Woordfees hierdie Nederlander uitgenooi het. Stef Bos is ‘n towenaar met woorde wat uit sy buik skryf, soos hy dit self stel. Hy vind ‘n fyn balans tussen die vreugde en hartseer van die lewe en die gehoor hang aan sy lippe. Wanneer ‘n mens na so ‘n paar snitte op Kloofstraat luister, dan verstaan jy wat hy bedoel. Sy lirieke spreek van rou emosie en eenvoud en jy betrap jouself dat jy onwillekeurig saam neurie…

Yolanda Saayman

Tags: , , , , , ,