Stef Bos stel “Kloofstraat” CD bekend tydens Stellenbosch Woordfees

01 Maart 2010 – Stellenrust

Stef Bos se nuwe CD Kloofstraat is Maandagaand op Stellenrust wynplaas as deel van die Stellenbosch se jaarlikse Woordfees vrygestel. Dit is ‘n samestelling van snitte wat op sy CD reeks Demo 2008 Deel 1, 11 & 111 verskyn het, met die uitsondering van Komatiepoort wat nog nooit voorheen op ‘n CD verskyn het nie.

Dis hoog somer in Stellenbosch – 40 grade Celcius en die kraaie gaap. Binne in die kelder is dit koel. ‘n Saal is ingerig as ‘n teater en ‘n klein verhogie is opgestel met onder andere ‘n vleuelklavier. Stef is reeds daar om die klank te toets en ek het ‘n geleentheid om ‘n paar behind the scenes fotos te neem.

Die voorreg het my dus weer te beurt geval om hierdie talentvolle kunstenaar af te neem. Hy is absoluut gefokus. Hy lyk besorgd omdat die Februarie Susters nog nie opgedaag het nie… Gelukkig stap Die Susters, Esmé Klaaste, Maria Steenkamp, Debbie Isaacs en Jane Filander, net na 19h00 by die teater in. Hulle is netjies geklee, lyk ontspanne, opgewonde en trots. Hulle wou blykbaar nog altyd ‘n CD sny en nadat Stef hulle vir die eerste keer in ‘n kerk in die Elgin-omgewing hoor sing het, het hierdie droom vlerke gekry…

Geen twee shoots is ooit dieselfde nie. My grootste uitdaging, behalwe om die beligting te bemeester, is om die musikant in ‘n ander lig te raam. My doel was om sy nuanses, sy verhouding met die klavier en sy interaksie met die gehoor vas te vang, maar anders as voorheen.

Vir hierdie geleentheid het ek twee lense gebruik – die Canon EF 50mm f/1.8 II en ‘n Canon EF 70-200mm f/2.8 L IS USM lens. Vinnige lense is onvermydelik vir teater shoots veral as ‘n mens nie flits fotografie wil/mag gebruik nie. Die beligting was meer uitdagend as by die Oude Libertas aangesien die verhoog geen backdrop gehad het nie. Natuurlik is die verhoogbeligting baie belangrik, want dit is die beskikbare lig waarmee ek moet werk en so begin my wals met die veranderlike, onbeheerbare lig, in die donker.

Ek kan verstaan hoekom Die Woordfees hierdie Nederlander uitgenooi het. Stef Bos is ‘n towenaar met woorde wat uit sy buik skryf, soos hy dit self stel. Hy vind ‘n fyn balans tussen die vreugde en hartseer van die lewe en die gehoor hang aan sy lippe. Wanneer ‘n mens na so ‘n paar snitte op Kloofstraat luister, dan verstaan jy wat hy bedoel. Sy lirieke spreek van rou emosie en eenvoud en jy betrap jouself dat jy onwillekeurig saam neurie…

Yolanda Saayman

Tags: , , , , , ,

Comments are closed.