Stef Bos stel “Kloofstraat” CD bekend tydens Stellenbosch Woordfees

Posted in Live Music on March 4th, 2010 by Yolanda Saayman

01 Maart 2010 – Stellenrust

Stef Bos se nuwe CD Kloofstraat is Maandagaand op Stellenrust wynplaas as deel van die Stellenbosch se jaarlikse Woordfees vrygestel. Dit is ‘n samestelling van snitte wat op sy CD reeks Demo 2008 Deel 1, 11 & 111 verskyn het, met die uitsondering van Komatiepoort wat nog nooit voorheen op ‘n CD verskyn het nie.

Dis hoog somer in Stellenbosch – 40 grade Celcius en die kraaie gaap. Binne in die kelder is dit koel. ‘n Saal is ingerig as ‘n teater en ‘n klein verhogie is opgestel met onder andere ‘n vleuelklavier. Stef is reeds daar om die klank te toets en ek het ‘n geleentheid om ‘n paar behind the scenes fotos te neem.

Die voorreg het my dus weer te beurt geval om hierdie talentvolle kunstenaar af te neem. Hy is absoluut gefokus. Hy lyk besorgd omdat die Februarie Susters nog nie opgedaag het nie… Gelukkig stap Die Susters, Esmé Klaaste, Maria Steenkamp, Debbie Isaacs en Jane Filander, net na 19h00 by die teater in. Hulle is netjies geklee, lyk ontspanne, opgewonde en trots. Hulle wou blykbaar nog altyd ‘n CD sny en nadat Stef hulle vir die eerste keer in ‘n kerk in die Elgin-omgewing hoor sing het, het hierdie droom vlerke gekry…

Geen twee shoots is ooit dieselfde nie. My grootste uitdaging, behalwe om die beligting te bemeester, is om die musikant in ‘n ander lig te raam. My doel was om sy nuanses, sy verhouding met die klavier en sy interaksie met die gehoor vas te vang, maar anders as voorheen.

Vir hierdie geleentheid het ek twee lense gebruik – die Canon EF 50mm f/1.8 II en ‘n Canon EF 70-200mm f/2.8 L IS USM lens. Vinnige lense is onvermydelik vir teater shoots veral as ‘n mens nie flits fotografie wil/mag gebruik nie. Die beligting was meer uitdagend as by die Oude Libertas aangesien die verhoog geen backdrop gehad het nie. Natuurlik is die verhoogbeligting baie belangrik, want dit is die beskikbare lig waarmee ek moet werk en so begin my wals met die veranderlike, onbeheerbare lig, in die donker.

Ek kan verstaan hoekom Die Woordfees hierdie Nederlander uitgenooi het. Stef Bos is ‘n towenaar met woorde wat uit sy buik skryf, soos hy dit self stel. Hy vind ‘n fyn balans tussen die vreugde en hartseer van die lewe en die gehoor hang aan sy lippe. Wanneer ‘n mens na so ‘n paar snitte op Kloofstraat luister, dan verstaan jy wat hy bedoel. Sy lirieke spreek van rou emosie en eenvoud en jy betrap jouself dat jy onwillekeurig saam neurie…

Yolanda Saayman

Tags: , , , , , ,

Stef Bos en Petr Luckhoff live by die Oude Libertas

Posted in Live Music on February 10th, 2010 by Yolanda Saayman

Stellenbosch
07 Februarie 2010

Stef Bos is nie meer ‘n vreemdeling in Suid-Afrika nie en van sy musiek videos verskyn reeds op Jukebox en MK89. Inteendeel, sedert sy begin dae, is hy ‘n kunstenaar wat al diep in die harte van die Suid-Afrikaanse volk gekruip het. Hy is ook onlangs met ‘n “Afrikaanse nooi”, sy Suikerbossie, Varenka Paschke, getroud.

Sy musiek het my begin interreseer in 1991 met sy eerste treffer Papa wat op die album “Is dit nu later” verskyn het. Hy sou daarna (1993) Awuwa saam met Johannes Kerkorrel (Ralph Rabie) en Thandie Klaasen opneem.

In daardie jare was “world music” nog nie vrylik in Suid-Afrika beskikbaar nie en dit was voor Stef ‘n paadjie na die Suide begin deurloop het dat ek genoodsaak was om sy musiek in te voer. Ek het dadelik aanklank gevind by sy musiek. Ek was verwonderd met die gedagte dat ek nie die enigste diepsiel in die wêreld is nie – daar was iemand wat soos ek dink en voel en dit nog boonop so goed en poëties kon verwoord!

Die heel eerste vertoning wat ek van Stef Bos gesien het was by die Oude Libertas Amfiteater in Stellenbosch in Desember 1994. Dit sou die eerste van vele konserte wees.

Ek het dadelik ‘n kaartjie gekoop vir Stef Bos se show toe die Oude Libertas se 2009/2010 somerseisoen program bekend gemaak is. My kaartjies vir Sondag se konsert het vir die eerste keer in 3 maande lug ge-asem toe ek hulle uit die kluis haal, want deesdae is Stef Bos kaartjies so waardevol soos goud!

As fotograaf en ‘n fan van Stef Bos, het ek nou die geleentheid gehad om hom op “digitale film” vas te vang. Ek het ‘n puik sitplek gehad vir hierdie taak. Die groot uitdaging was om natuurlike lig te gebruik vir die fotos aangesien flits fotografie nie toelaatbaar is nie. My Canon 5D Mark II het ‘n ISO kapasiteit van 6400 en sou dus maklik die toets deurstaan. Ek het ‘n mega lens (Sigma 120-400mm f/4.5-5.6 DG OS HSM) geleen sodat ek die beste van die geleentheid kon maak om die vertoning af te neem. Die truuk is om die shutter speed vinnig genoeg te hou om die beweging te stil, maar ook om die ISO nie te hoog te stoot nie om ‘n sagte gryn op die fotos te behou. Die ander uitdaging is om die fokuspunte en die lig vir elke foto in te stel, want alhoewel die verhoog beligting dieselfde bly, verswak die eksterne lig en omdat my f-stop alreeds so laag is, moet my fokuspunt doodreg wees anders is my beeld uit fokus.

Almal is nou al bekend met Stef Bos, maar wie is Petr Luckhoff?

Petr Luckhoff is ‘n 5-jarige seuntjie met ‘n groot passie vir musiek en meer spesifiek Stef Bos se musiek. Hy het homself reeds tydens die klanktoets op die verhoog gevind! Uit die bloute uit en teen die 11de uur word hy toe sommer Stef se gaskunstenaar!

Petr het geen inhibisies nie, net baie passie en entoesiasme. Mense het seker gedink dat dit vooraf beplan was, maar sy ma, Liesl, beskryf die “voorval” as priceless! Sy sê Petr skryf die hele tyd liedjies en dat hy ewe veel tyd op sy fiets as met sy kitaar spandeer. Hy het onlangs ‘n liedjie geskryf oor hoe dit is om sy tand te laat trek: “daar was pyn, daar was opwinding, daar was vreugde!”

Toe Stef hom op die verhoog roep tydens die hoof vertoning, toe spring hy sommer dadelik weg met sy eie komposisie wat soos Stef dit opgesom het, handel oor “hy is ‘n great ou en die wêreld is sommer k@k!”

Die gehoor was histeries van die lag toe hy vir Stef beduie om op te hou speel, want die liedjie waarmee hy besig was, Tydbom, is “boring” en hy verkies om “Ik hebt jou lief” te sing. Ek het self so gelag dat ek skaars kon fotos neem. Dit is natuurlik wanneer ‘n mens dankbaar is vir image stabilizers. Petr het glad nie teruggehou nie en uit volle bors “ek het jou lief” geskree…soos ‘n rock ster!

Ek voel bevoorreg dat ek Petr se debuut met die legendariese Stef Bos kon vir ewig en ek sien die outjie nog groot hoogtes bereik. Wat ‘n voorreg om op so ‘n jong ouderdom ‘n verhoog te deel met jou held en dan nog sommer so ‘n komposisie van jou eie ook tussenin te kan vleg!

Yolanda Saayman

Tags: , , , ,