Die Storie van Oom Abraham Visser

‘n Storie soos die een kan net in Afrikaans geskryf word.  Dis ‘n storie van ‘n ontmoeting tussen ‘n aspirant fotograaf en ‘n legende…

As jy die N1-roete Noord volg, na Matjiesfontein links afdraai op die R354 en een word met die kronkels wat lei tot op die Afrika plato, lê daar ‘n klein dorpie in die hartjie van die Karoo, Sutherland.  Bekend vir sterrekyk en die tuiste van die grootste teleskoop in die Suidelike Halfrond (SALT).‘n Mens durf dalk ook sê dat dit is waar jy, ironies genoeg, nog die sout van die aarde gaan opspoor, mense soos Oom Abraham Visser.

Ek het Oom Abraham Visser op ‘n Saterdagoggend voor een van die land se laaste Verbruikers Koöperasies raakgeloop – Verbruikers Groothandel Koöperasie (VGK).  Die waarheid is dat ek hom al van ver af sien aankom het.  Hy was gesuit-en-getie met sy Sondaghoedjie skuins op sy kop.  Ek wou hom graag afneem, maar wou hom nie vervreem nie.

My aanknopingspunt was heel natuurlik.  My ma het 35 jaar lank vir die koöperasie gewerk.  Eers as ‘n 16-jarige op die skakelbord in Swellendam en mettertyd in hulle rekeningafdeling in Parow.  My fasinasie met die koöperasie was dus nie toevallig nie.  Ek en Oom Abraham het oor mense begin gesels wat ek vaagweg uit my kinderjare kon onthou van toe ek nog saam met my ma skoolvakansies werk toe gegaan het.  Ek het self ‘n paar maande as ‘n student op die skakelbord en met produk promosies uitgehelp vir sakgeld.

Na ons staaltjies uitgeruil het, het ek Oom Abraham gevra of ek ‘n kiekie van hom kan trek.  Hy het skamerig ingestem en eers op versoek, vir my geglimlag terwyl sy pyp in die linkerhoek van sy mond, tussen twee tande, balanseer.  Ek het hom ‘n R5-muntstuk gegee om dankie te sê vir die pose en die lekker gesels.

Oom Abraham Visser het in my hart gekruip en sou daar bly.  Dit was Augustus 2009.

Ek het na afloop van die naweek van die fotos op Flickr (‘n aanlyn fotografie platform) geplaas waar ek ‘n bietjie blootstelling kon kry.  Dit is hier waar die skrywer van A Passion for Pipes, Neill Archer Roan, Oom Abraham se foto ontdek het en my gevra het of hy die foto vir sy blog kan gebruik.  Hierdie blog sou Oom Abraham onwillekeurig op ‘n virtuele reis om die wêreld neem.

Dit was eers daarna dat ek Karin, ‘n vriendin, gevra het om Oom Abraham te probeer opspoor wanneer sy weer Sutherland toe gaan.

Ek hoor haar nog protesteer:  “Maar hoe gaan ek hom in die hande kry?”

Waarop ek moedig geantwoord het:  “Karin, jy het ‘n foto van die man.  Sutherland is klein.  Hoe moeilik kan dit wees?  Ek is oortuig iemand sal hom ken.”

Laat een Saterdagmiddag kry ek ‘n oproep van Karin:

“Jy gaan my nie glo nie!  Ek het die Oom opgespoor.  Ons was in die hoofstraat vanoggend en toe vra ek ‘n meisie voor die koöperasie of sy die Oom ken.  Sy sê toe:  ‘Ja.  Dit is mý Oom.  Hy is in die Usave.’ en daar kom Oom Abraham terselfdertyd uitgestap.  Ek kon dit nie glo nie.  Sy was die eerste persoon wat ek gevra het!”

Karin het die foto, met die geldjie wat ek vir hom gestuur het, in sy sak gesit en aan hom verduidelik dat sy foto groot opspraak maak.

In Junie 2013 word ek genader deur ‘n Amerikaanse skrywer, Ralph William Larsen.  Hy wou weet of hy die foto van Oom Abraham vir die voorblad van sy boek Doctor of Pipes: strange and loving communiques from inside the briar brotherhood kan gebruik.  Ek het ingestem en ons het ‘n verbruikskontrak aangegaan.  Die boek waarop Oom Abraham Visser pryk, is in Augustus 2013 gepubliseer.

Oom Abraham hang trots in onder andere ‘n villa in Spanje en Karin & Gert se huis in Sutherland.  Hy glimlag ook breed op die voorblad van die boek:  Ons praat AFRIKAANS:  diverse mense – een taal.

Ongelukkig is Oom Abraham ‘n paar jaar terug oorlede.  Ek is bly ek kon my sukses met hom deel, maar wens eerder ek kan nou om ‘n vuurtjie sit en sy gesig sien as ek vir hom wys en vertel hoe ver sy foto al gereis het.

In my kop bly Oom Abraham Visser ‘n ware Legende.